Hallo julle! Ek is baie agter met my inskrywings, want die naweek was net te lekker. Hier is Dag 5 (laasweek Vrydag) en ‘n opsomming van die sopdieet.

10:37- Vandag voel dit of die wiele wil afval. Ek was okay tot vandag toe en het ek die versoekings van pasteie, Bar Ones en souttert oorleef, maar iemand het sopas ‘n geroosterde broodjie met kaas gemaak en die hele bliksemse kantoor ruik daarna. Ek wil so graag net ‘n ou broodjie eet! Nie die gesnyde Albany soort nie, maar ‘n Mosambiekse pão of ‘n selfs ’n franse brood wat ek in ’n lekker sub kan verander! Maar ek moet sterk staan, want ek voel alreeds beter in my vel en ek kon vanoggend vir die eerste keer my navy truitjie toeknoop. Ons altwee se knope en jeans baklei nie meer so erg nie, al is daar nog ‘n stryd aan die gang. Dit sal ons albei goed doen as ons net vasbyt en onsself kan leer om meer matigheid toe te pas.

12:01- Urgh! My kollegas gaan nou burgers koop en ek sit met ‘n koppie warm sop. Jippee…Ag, ek moet myself seker nie so jammer kry nie, want soos ek hierbo gesê het, voel my lyf alreeds kleiner en om dit te kry, moet mens maar opofferings maak. Vandag voel dit of my emosies in ’n tuimeldroeër is.


 

Onshet Vrydag na werk die dieet gestaak. Ek het toe nog kans gesien om aan te gaan, al het dit gevoel of die wiele sou afval. My man het by die huis gekom en voorgestel dat ons die dieet Vrydag staak en dan Vrydagaand en Saterdag onsself bietjie treat en van gister af die Cohen dieet te volg. Omdat ek gevoel het dit is ‘n goeie plan het ek ingestem om van die sop af te klim. Ek kan eerlikwaar sê ek kan ‘n verskil aan my lyf voel en ek sal dit weer doen as ek voel die rolletjies raak ‘n bietjie baie. Ons gaan nou die Cohen elke werksdag volg en oor naweke kan ons minder streng eet, maar ons gaan ons porsies oor die naweke net minder maak.

Dankie vir almal se ondersteuning

***vlamkind***


08:30- Goeie griet, die piesang wat ek vir ontbyt geëet het was lekker! Vandag is ‘n goeie dag in die dieet, want dis van hier af waar dit net beter raak tot en met Dag 7. Ek het klaar besluit ek wil Sondag ‘n klein pizza by Roman’s bestel. Ja ja ek weet ek straf myself vir ‘n week en dan eet ek pizza!? Wel, ek dink dit sal okay wees as ons pizza koop, slank dit nie die gewone vier larges tussen twee mense is nie. (Wow, is dit hoeveel ons altyd bestel het!) Ek dink twee mediums sal doen…hmmmm. Ag, ek wil net weer bietjie ietsie lekkers eet voodat ons Maandag met die Cohen begin.

11:44- Ek was gou Spar toe om vir die bediende kos te koop en die warmkosafdeling is reg by die bakkery. Die reuk van die lekker brood het my vir so ‘n halwe minuut mislik gemaak, maar dit het gou oorgewaai. Ek het my fokus verskuif na die warm kos en het staan en besluit wat ek vir ons bediende moet kry om te eet. Ek was nie eers ‘n bietjie lus om te kroek nie, want ek het besef my gesig lyk al skraler en ek wou niks doen om dit te verloor nie. Ek koop toe maar vir haar die Bar One wat ek vir myself sou koop. Ek gaan wel teen Sondag kan moord pleeg vir ‘n chocolate eclair, maar ek sal die fight maar dan fight.

13:37- Hahaha! Ek voel nou so simpel. My baas kom by my kantoor ingestap met daai walglike lang swart stukke liquorice en bied vir my een aan. Ek sê toe “dankie” en vat een. Na die tyd het ek besef ek het nie mooi gedink nie, want 1) ek hou NIKS daarvan nie en 2) ek mag net sop, groente en vrugte eet. Sy bied nooit vir my eetgoed aan nie, so ek wil toe nie die vriendelikheid afjak nie. Ek het gedink ek sal die nare swart tou van walging later vir my man gee. Hy hou daarvan. Intussen lê die ding onder my sleutelbord weggesteek, want ek wil hê my baas moet dink ek het dit geëet.

14:33- Oh no! My baas het sopas terug gekeer en ‘n stuk souttert voor my neergesit! Dit ruik so lekker en nou weet ek nie wat om te doen nie. Ek dink ek sal dit maar gaan terugsit in die tertbord en hoop niemand sien my nie. Vrek, ek moes haar gesê het ek mag net hasie kos eet, want as sy my uitvang dat ek dieet en niks gesê het nie gaan sy baie simpel voel. Ek wil dit GLAD nie hê nie. In al die tyd wat ek al hier werk het sy nog nooit so iets nice vir my gedoen nie. O, en het genoem dat die hele kantoor nou soos souttert ruik? Hmmmmmm…ek sal maar net diep asemhaal.

14:40- Ek het die stuk souttert nou maar in ‘n plastiekbakkie gesit en ek sal dit vries (kan mens souttert vries?) tot ek dit mag eet en dan net hoop een van my kollegas lap my nie uit nie. Dis darem net nog die res van vandag en môre wat dit ‘n probleem is.

***vlamkind***

Operasie Minder Junk Eet: Dag 3

Posted: 13/08/2014 in Gedagtes
Sleutelwoordw:, ,

Goeienaand, mensies!

Vandag het die sop my nie te veel gepla nie, want dit was so besig by die werk. Ek het laat gewerk en ongelukkig my drafsessie gemis. Na werk het ek die laaste bondel wasgoed vir die week ingesit en per ongeluk my man se modderige sagtebalbroek saam met die ligte(r) bondel ingesit. Ek sal enige huisvroutoets dop, hoor! So, my gunsteling truitjie, waaroor ek al baie komplimente gekry het (en wat ek die aand op ons troue aangetrek het toe ek my trourok vir my jeans verruil het), het nou sulke ligte bruin kolle op. Die truitjie was wit en nou is daar sulke sieklike kolle soos ‘n skewbald perd s’n. Ai! Ek moet nou wakker bly todat die wasmasjien klaar is, want ons het die goed nou maar weer ingesit en hoop vir die beste.

Ek moet wel sê dat die bediende se kos vir môre nogal ‘n uitdaging is. Shame, sy kan nie net sop eet nie. Gewoonlik eet sy maar wat ons eet, maar ek sal maar môre gou uit die kantoor glip en iets vir haar kry. Ons het vanaand selfs al die groente wat in die huis was verslind. So, ek sal maar plan maak.

Verder as dit het ek nie veel om kwyt te raak nie. Ek voel nie vreeslik spraaksaam vanaand nie, so ek groet julle.

***vlamkind***

Operasie Minder Junk Eet: Dag 2

Posted: 12/08/2014 in Gedagtes
Sleutelwoordw:,

10:11- Hallo julle! Ek het so bietjie kritiek oor my sopdieet uit ’n paar monde gekry. Ek besef dis volgens baie mense ’n klomp bog en so, maar ek wil hierdie graag probeer en vir myself besluit of dit werk of nie. Ek is nie van plan om hierdie te lank vol te hou nie, maar ek weet ek het nodig om dit te doen. Dit gaan vir my oor die uitdaging en die kopskuif en ek voel so ’n sopdieet sal baie help omdat daar GEEN grys areas en vryheid is nie. Elke mens se lyf is anders en wat vir een persoon werk, sal nie noodwendig vir ’n ander een werk nie. Ek is nogal skepties oor die storie, maar ek beoog om ’n artikel daaroor te skryf vir ’n tydskrif en dan sal dit my baie help as ek dit self ervaar het.

13:50- Ek voel aansienlik beter as wat ek gedink het ek gaan voel. Ek is nou besig om die laaste beker sop van die vorige pot wat ons gemaak het te drink en dis my beurt om vanaand weer te maak. Ons kan darem van vanaand af bietjie meer dinge by die dieet voeg.

15:45- Ek moet sê ek is nie veel van ‘n soettand nie, so ek gaan nie sjokolade ens. so erg mis nie (al is dit vir my lekker wanneer die geleentheid hom voordoen). Ek gaan wel hierdie week Portugese broodrolletjies en Italiaanse ciabatta mis. Ek is mal oor “eksotiese” brode. O, en moenie van die klassieke knoffelbroodjie op die braaivleisvuur vergeet nie. Hmmmm, praat ek myself lus. Oeg, maar ek is stout vir “stoute” koolhidrate. Dink julle mens kan verslaaf raak daaraan? Dit voel vir seker of ek is. Hoekom moet alles wat lekker is vet maak? Is dit ons liewe Here se manier om ons selfdissipline te leer?

21:00-Vanaand voel ek effens moedeloos met die etery. Die aartappel het darem baie gehelp met die gemoedstoestand, maar ek gedink more is steak dag en dit het my deur die dag gesien. Nou vind ons uit dat steakdag eers Vrydag is! My sop het toe nie te sleg uitgedraai nie en ons het dit die keer nie so fyn gemaak nie, so dit voel darem nie asof mens Purity eet nie. Anyway, ek dink ek het dag twee oorleef.

Tot later dan

***vlamkind***

Operasie Minder Junk Eet: Dag 1

Posted: 11/08/2014 in Gedagtes
Sleutelwoordw:, ,

12:30– Hallo mensies! Ek was lanklaas hier, maar ek moet vir die volgende week elke dag hier kom skryf. Ek en my man het besluit om ‘n weeklange sopdieet te volg voor ons weer oorslaan na die Cohen dieet toe. Ons is albei vrek bang vir die storie, want die laaste ruk eet ons net wanneer ons wil, wanneer ons wil. Ons voel nou nogal ongemaklik in ons klere en ons wil graag weer bietjie beter lyk en voel.

So, as deel van die uitdaging het ek gedink ek moet ten minste een inskrywing per dag doen om te sien hoe die ervaring toe op die ou einde iets geleer het en of ek my houding teenoor kos kan verander. Ek hoef seker nie heeltyd alles te eet wat ek sien nie. Ek dink ek kan doen met ‘n bietjie meer self-dissipline in my lewe.

Ons mag net sop eet vir sewe dae en so nou en dan ‘n porsie vleis. O, en darem vrugte. Ek het al twee bekers sop in en twee koppies koffie en ek voel honger, maar ek dink nie dis te erg nie. Dis net crap dat iemand ‘n lekker pastei warm gemaak het en ek dit nou tot in my kantoor ruik…urgh. Ek dink ek moet maar nog koffie gaan maak, want ek dit sal help met die gemoedstoestand.

12:56– Toe ek nou vir my koffie maak het iemand ’n koekerige ding wat baie lekker ruik in die kombuis laat lê. Alhoewel dit soos ’n piesangbrood lyk, ruik mens net sjokolade voor en agter. Grrr…

14:23– Die volgende bekertjie sop is warm gemaak, maar ek voel soos ’n babatjie wat Purity eet.

16:06- Ek het besef ek hou nogal te veel van lekker eet en dat ek myself die heeltyd troos met die feit dat ek drie keer ’n week draf. As ek ’n bietjie beter eet en aanhou draf, sal ek mos baie vietser wees! En wanneer ek dan my doelgewig bereik het, sal dit makliker wees om nou en dan stout te wees omdat ek makliker my gewig sal handhaaf. nou handhaaf ek net my swaarder gewig, waar ek eintlik ’n ligter ek kan handhaaf. So mens moet maar besluit of jy die opoffering kan maak. Soos ek nou voel gee ek nie om om ’n bietjie swaar te kry nie. Maar ek is nogal honger soos ek hier sit. Ek moes dalk meer vrugte geëet het deur die dag.

21:15– Aandete het bestaan uit twee lemoene en ‘n koppie koffie. Moet sê dit hou my beter as wat ek gedink het. Ek dink dit sal moeilik wees vir die eerste twee dae en dan sal dit beter gaan, namate mens elke dag ‘n ietsie by die dieet kan sit. My man hou NIKS van gabakte aartappels nie, maar hy sien beslis uit na more aand se porsie aartappel. Ek kon ook voel dat die drawwery vandag nie te sleg gegaan het nie. Ek was bang ek gaan te pap voel om 5 km te doen en ek het glad nie te sleg gevaar nie. So, ek kan darem sê ek het Dag 1 oorleef.

Is daar enige van julle wat ook iets soortgelyks aangepak het? Ek sal graag van julle ervarings wil hoor.

***vlamkind***

Vandag sê ek net dankie

Posted: 13/06/2014 in Gebede
Sleutelwoordw:, , ,

Dankie vir die vryheid om in my eie huis en land ’n Christen te kan wees.

Dankie vir my boetie, Jesus.

Dankie vir die Heilige Gees wat my van binne roer en aansteek.

Dankie vir my lieflike man.

Dankie vir ’n werk waar ek leer klippe kou, maar waar ek ook vaardig raak in my “ambag”.

Dankie vir ’n dak oor my kop.

Dankie vir die klere aan my lyf en ’n kar om rond te ry.

Dankie vir die pertol in die kar.

Dankie vir vriende en familie.

Dankie vir my gawes, al ontwikkel ek hulle nie soos ek moet nie.

Dankie vir my talent om te skryf.

Dankie vir die klein plesiertjies, soos lekker koffie as die werk moeilik raak.

Dankie vir vertroosting.

Dankie vir liefde.

Dankie vir genade en vergifnis.

Dankie vir die swaar tye.

Dankie vir die goeie tye.

Dankie vir ondersteuning.

Dankie vir beskerming.

Dankie vir lag.

Dankie vir vreugde.

Dankie vir die roosboom buite my deur wat so mooi blom en my oggend ophelder.

Dankie vir die vrymoedigheid om in die troonkamer te kan instap, nes ek is.

Dankie vir die vooruitsig van die ewige lewe.

En dankie dat ek nooit ’n “lost cause” sal wees nie, maak nie saak hoe gebroke ek is nie.

Amen

Ek mis my boek

Posted: 23/05/2014 in Gedagtes
Sleutelwoordw:, , , ,

Ek mis my boek en ek het dit gistraand weer besef. Baie keer voel ek vrek lus om weer daarin te skryf en dan haal die lewe my in. Op ‘n stadium kon ek nie deur ‘n enkele dag kom sonder om daarin te skryf nie en nou voel dit so geforseer as ek daarin skryf. Die omvangrykheid het verdwyn. Gistraand toe ons ’n op ’n plot in iemand se sitkamer voor die kaggel sit en kuier het, het ek my boek gemis. Ek het sommer alles wat ek gevoel het daarin in neergeskryf en sommige van hierdie tirades het blog posts geword.  In ’n mate was dit my manier om naby aan die Here te voel. Die laaste ruk was daar net nie genoeg dinge wat my laat diep voel het nie. Ek kan net in die boek skryf wanneer ek diep voel. Miskien as ek lank genoeg stil sit en net ’n bietjie na dink oor die dinge wat ek beleef sal ek genoeg materiaal hê om verwoed te kan neer pen. Miskien is ek net nie meer skryffiks nie. Ek het in 2012 nogal vrek baie geskryf en as ek terugdink, was dit moontlik omdat ek emosioneel deur ’n klomp goed moes werk. Die skryf het gehelp.  Soos ek nou hier sit mis ek my ma, maar ek is pasgetroud en gelukkig. Vandat ek begin skryf het, het ek gesukkel om goeie goed te skryf as ek gelukkig is.

My dierbare boek

Dis waar dat ek wel my dinge hier in die kuberruim kan kom neergriffel, maar daar is iets betowerends aan ’n lyntjies boek en ’n HB-potlood. Ek voel dan asof ek weer kan begin dig, want die potlood gly so grasieus met my ritme saam soos ek myself woordkunstenaar hou.  Miskien moet ek weer my boek saam met my na ’n italiaanse restaurant vat en skryf terwyl ek pizza en rooiwyn rustig geniet. Dit was een van die beste plekke waar ek al gesit en skryf het. Miskien moet ek sommer op ’n Saterdagoggend, as my man by die skool moet wees vir buitemuurs, ’n koppie boeretroos maak en net begin skryf. Wie weet wat ek sal skryf?

My boek van binne


***vlamkind***